You are currently viewing Datie Ndlovu  van Mooiplaas, 1926 – 1976

Datie Ndlovu van Mooiplaas, 1926 – 1976

Datie met sy seuntjie Stefaans

Datie het in my pa se lewe ingekom die oggend na die skielike afsterwe van Miemie, my pa se eerste vrou, op Mooiplaas naby Machadodorp, in 1938.  Die gedagte het gekom van Mbabane, Datie se pa, wat in die omgewing as toordokter bekend was.  “Hierdie piekanien moet by Johannesburg gaan saam met Maneer, hy moet Maneer se klere kyk en Maneer moet hom eleke jaar so ‘n verskalf gee” het hy met die vertikale plathand op heuphoogte die detail van die kontrak bevestig.

William Nicol was verslae. Een en vyftig jaar oud, kinderloos, sy beste maat, vir 26 jaar sy vrou, net skielik weg.  En ‘n predikant het ‘n pastorie en ‘n gemeente en ‘n job en klere. So laai hy vir Datie vroeg die oggend na die begrafnis op die kar en hulle haal Houghton in Johannesburg nog dieselfde aand.

Datie word geskat 13 te wees, maar ‘n klein 13.  Stil van vreemdheid na sy eerste rit in ‘n motor, sy eerste sien van straatligte, baksteenhuise, dubbelverdiepinghuise, baie vreemde mense, word hy met ope arms ontvang deur Siena en Dawid, jarelange bediendes in die pastorie.  Slim mannetjie; hy verfyn sy kennis van Afrikaans met die aangebore talent van ‘n kind, hy sien en hoor alles vanuit sy blyplek voorlopig onder die kombuistafel, hy leer hoe om in die witmenswêreld te oorleef.

En almal hou van hom. Omdat hy nie regtig werk het nie, beweeg hy dikwels saam met die muruti en leer mense ken wat hoog op is in die kringe van daardie tyd.  Beyers Naude, Ben Marais, Hans Strydom en baie ander sien Datie voor hulle grootword en ken die oorlamse mannetjie op sy naam.  Hy trek saam Maraisstraat toe wanneer William die beroep na Pretoria-Oos aanvaar en is die eerste een wat daarvan bewus raak dat die wewenaar saans klere nodig het om by ‘n nooi te gaan kuier.

So bly Datie in die glystroom van hierdie groot figuur: die nuwe mevrou Nicol, Lena, moet vir Datie aanvaar of sy wil of nie; hy is in ‘n gevestigde posisie en rats om in te pas en by te dra waar dit hom pas. Die koms van twee klein seuntjies in 1945 en ‘47, wanneer William 60 is, bevestig Datie se posisie. Met versorger en agterryer en kameraad reeds afgemerk, kom kinderoppasser  en speelmaat nou by en kwalifiseer hom as onmisbaar.

Pas tien jaar nadat hy as piekanientjie van Mooiplaas af geskuif is, land Datie in 1948 in die Administrateurswoning.  Eie gerieflike woonkwartier met sitkamer, binnehof en badkamer, ‘n klomp nuwe uitrustings vir verskillende geleenthede, ‘n klomp nuwe kollegas soos chauffeurs, tuiniers, skoonmakers, almal blank. Weer eens pas hy perfek in; bedags vlieg hy laag onder die radar want met tien manne in die tuin en verskeie vroue in die huis, is daar vir hom nie so veel om oor te bekommer nie. Dis saans wanneer hy tot sy reg kom.

Die administrateurspaar het ‘n geweldige druk program en moet haas elke aand uit.  Soms begin die opgewondenheid vroeg al wanneer Oom Fanie voor donker arriveer om met een van die groot swart motors sy mense Rand toe te neem. Datie sal so uit die niet verskyn, help om die ampsvlaggie op die motor se neus te monteer, en gedweë belowe om “mooi te kyk na die kleinbasies, Noi”.  Die rooi liggies is nog nie om die draai nie, dan begin die pret.  Hy is in sy twintigs, vol lewe, sterk soos ‘n bees, kreatief en sê nie maklik nee nie.  Nuwe rekords word byna daagliks opgestel in diverse items soos Persiese matjieseil, voetenend oplig, watergooi, gesteelde goedere eet. Noem dit, ons breek dit. Die middernagtelike kinderkoors wat my ma baie aande so ontstel het, was maar die natgeswete lyfies wat geduik het vir die bed wanneer die motorligte deur die venster val.

Datie met Willem (4) en Johannes (2)

Maar ons bly nie altyd tuis nie. Kaap toe ry ons in ‘n luukse wa heel agter aan die trein gehaak. Sjefs en kelners, Datie kry ook ‘n plekkie aan die staf se kant en ons raak saam paniekerig as my pa nog op die Karooperron staan wanneer ons dink die trein gaan vertrek.  En as ons met die motor ry, moet Datie die kleinbasies op die middelste sitplek besig hou.  Die dag Germiston toe vir die opening van die nuwe perderenbaan, bestuur Oom Fanie, Bossie, privaatsekretaris, sit regs voor, my pa en ma sit agter, ons met Datie in die middel op so ‘n uitvoubank.  “Hoe vorder ons Fanie?” “Ons is op tyd, Dokter”. Fanie laat? Nooit!  My ma begin organiseer: Datie teen die deur met die doeksak op sy skoot, dan Johannes teen hom en Willem moet opskuif sodat die administrateurspaar elegant kan uitklim waar die burgemeester, onderburgemeester (ligter ketting) en ander hooggeplaasdes hulle sal ontvang.  Maar hier beduie ‘n man vir Fanie: so en dan so links om, dis reg, en stop.  Burgemeester tree vorentoe, glimlag, maak die deur oop. Eerste uit is die doeksak, dan Datie. Hy is nog so half geboeë maar skud spontaan die Nasionale hand: “More, my Baas!”.

Ou Datie het altyd klein van postuur gebly. “Kortman” en “Mfishane” was van sy name maar Ndlovu beteken olifant en aan selfvertroue sou dit hom nooit ontbreek nie. Sy rol verander effens toe ons na tien jaar uit die Administrateurswoning weg is; hy moet nou bietjie meer werk en my ma is nou sy direkte lynbestuurder.  Ons hoor haar soms by my pa kla oor hom, maar hy geniet die immuniteit van ‘n eertydse kameraad.  Hy kla nie, maar wanneer ons ver speel en sy hom roep,  hou hy hom doof en sing saggies “wena Umfana, boisa lo dish, die ounooi is so baie vies”.  Hy en ek verstaan mekaar al hoe beter. Ek het ‘n predikant vir ‘n pa, ‘n predikantsvrou vir ‘n ma en my broer beplan om Teologie te studeer. Datie en ek gesels lekker. Braai mielies en vleis, rook so bietjie. Later verstaan hy iets van die fietsry. As ek lui is vir oefen, haal hy die fiets uit, maak hom skoon, sit hom reg. En as ek bevestiging soek dat dit gaan reën, dan se hy “Miskien kan mens net Jenkins ry” (die steil sementklim naby ons huis).

My pa se afsterwe in 1967 was vir hom ‘n verbysterende skok. Lank na die tyd nog kry jy hom met trane. Maar hy pas aan soos altyd, sorg vir my ma, raak ook toenemend betrokke by my en Marianne en ons nuwe dogtertjie Ellen, kom kook gereeld vir ons in die Burnettstraat woonstel.   Wanneer ons in 1973 op Kameeldrift bou en daarheen trek, is daar geen kwessie oor Datie se saamgaan nie.  Teenoor my ma is sy werk voltooi; sy is in die ouetehuis,  Maneer kan rus.

Op die plot beding hy vir homself ongemerk en glad weer ‘n nie-uitvoerende posisie. Sy hartkwaal begin pla, maar daar is iemand in die kombuis en daar is iemand in die tuin; sy verantwoordelikheid is om met Ellentjie te speel en die sosiale lewe van die omgewing met sy groot maat Kleinoortjies te geniet.  Hy vertel dat die Swart Koekoek hom roep: “Da – tie,  Da – tie”.

Hy is gelukkig.

Ek besef een Saterdag dis half een en alles maak een-uur toe vir die naweek. “Kort jy enige iets, ou Ded?”  “Wag, Kleinbaas, laat ek sien.” Hy tik met sy hand op sy hempsakkie, dan op sy broeksak. “Ek het twak…… ek het vuurhoudjies…… ek het alles.  Ry maar!”

Daardie nag is hy weg. Hulle wat hom geken het, sal hom onthou.

Datie op Kameeldrift 1975