Krapstok

‘n Man moet ‘n krapstok hê.  Die laaste ding wat ek destyds op die treklorrie gegooi het, was so ‘n lekker lang, reguit Kareelat, ‘n trosie vir alles wat ek in Transvaal moes agterlaat.

By die nuwe woonplek aangekom is alles deurmekaar, maar na so ‘n week het jy alles in plek vir jou eerste braai en die totale vreemdheid word verlig wanneer jy daardie ou bekende weer in jou regterhand voel.  Jong karee het mos ‘n kenmerkende tekstuur met daardie fyn, donkerder knoppies,  hy is lekker swaar in jou hand en hy brand nie te gou as jy net vinnig bietjie orde wil skep onder die vreemde Kaapse kole nie.

Die jare neem maar sy tol op alles en ten spyte van jou suksesvolle behoud van Krapstok—talle werkers sou hom sommer brand of as tuinpaaltjie inspan—word hy al hoe korter.  ‘n Ramp, want die greep is nou presies soos wat jou hand wil hê en die lang verhouding bind julle aan mekaar.  Elke herontmoeting bly ‘n vreugde, maar die wete dat die einde vinnig naderkom, is ‘n donker wolk.

As implement verrig die krapstok belangrike funksies.  Dis hy wat sorg dat houte wat verkeerd lê, hul regte plek op die regte tyd inneem.  Dis ook hy wat driepote, staanders en roosters kan rondskuif sonder gevaar van hande brand. En wanneer die groot oomblik aanbreek van vleis opsit, is dit hy wat die laaste groot kole oopkap, die assies wegkrap en die tempratuurbeheer oorneem.  Selfs wanneer ‘n vuur lyk of hy sy hitte begin verloor, is dit hy wat met die regte aanslag nog ‘n laaste braaitjie kan toor.  Sonder ‘n ordentlike krapstok is ‘n man verlore.

En dan kom die dag wanneer jy net nie meer regkom nie; jou hande brand en  daai Kareelat beland in die vuur waar hy so ‘n klein wolkie rook afgee voor hy saam met sy voormalige onderdane verkool in diens van die taak.

Die nuwe een sou net ‘n tydelike maatreël wees, ‘n soort oorgang van die Noorde na die Suide. Ek saag so ‘n reep van ‘n vloerplank se tongkant en maak hom lekker lank om voorsiening te maak vir sy sagte karakter. Maar hy is nie ‘n lat of ‘n stok of ‘n staaf nie, eintlik maar net ‘n spalk. Skerp hoeke, ruik na den, vlam vir niks.

Met gebruik wys hy sy bereidwilligheid om aan te pas, ek vat hom so bietjie met ‘n skuurpapiertjie en om te keer dat hy te gou verkeerd verstaan word, sit ek vir hom so ‘n hanglussie deur ‘n gaatjie. Nou het hy skielik identiteit en ons braai al hoe lekkerder, slaan selfs nou en dan so ‘n bofbalhou na ‘n pit of ‘n beentjie.

Maar diep binne weet die houtman dat sagtehout—dis nou van bome met naalde—nooit werklik die plek van hardehout kan neem nie en ek begin kyk vir ‘n waardige plaasvervanger wat my darem ‘n klompie jare sal vat, dalk sommer end-uit as ek hom reg behandel.  Mens wil nie van die bekendes van die streek soos geelhout, stinkhout of hardepeer gebruik nie; hulle het sekerlik die kwaliteite, maar dit voel darem nie reg om as inkomeling die risiko te loop dat jy onkundig of ongeërg voorkom nie.

Wanneer ek in die bos so bietjie skoonmaak, val die gewig van Boesmangif se takke en latte my telkens op. Hy maak ook graag ‘n lekker reguit stuk en so een word aangestel by my vuur.  Daar is die aanvanklike aanpassing, maar gou vir gou begin ons goed regkom en sien ek dat hy nie net met my nie, maar ook met die vuur al hoe beter oor die weg kom.  Hy beweeg  teen die regte spoed en met die regte aanslag.  ‘n Ligte stok beweeg te vinnig en maak maklik vonke; ‘n swaar stok val te swaar en kan kole beskadig.

Dis in daardie tyd dat ‘n man aan my openbaar hy gebruik glad nie meer sy krapstok nie. Kan dit wees, hy is tog van ons mense?  Nee, sê hy, hy het ‘n krapstok gehad, maar deesdae braai hy net met Engelse kole en hulle is so eweredig van grootte dat jy sommer van die begin af jou vuur reg pak, dan kan jy op daai vuur braai sonder dat jy hom eers aangeraak het.  Sommer net so, geen verhouding nie, net aansteek en opsit!  Hy sien my verstomming en gaan sommer nog verder: sy buurman het glo ‘n gasbraaier en het al daardie onding sommer in die teenwoordigheid van gaste opgesteek en minder as tien minute later begin braai, net so koelbloedig.  Dan braai hy seker net hoender of maer vark en groet hy seker nie eers na die braai nie, loop net weg.

Die Boesmangif was die regte keuse en ons sal ver kom.  ‘n Man braai miskien ‘n bietjie minder dikwels en soms ‘n bietjie kleiner, maar die kwaliteit van die ervaring verdiep met die jare.  Waar die sien van die vuur en vlamme hoofsaak was, kom geur en gevoel en warmte nou by.  Elke vuur het sy eie aroma en elke braai voel anders, al is dit net die lug of die lig of die plek waar jy en jou krapstok is.