My pa slaan my so met die vuis voor die bors en ek kan sien hy kan sy emosie moeilik bedwing. “Ou seun” prewel hy amper terwyl hy aan my die groot silwerbeker vir beste junior tydens die SA baankampioenskappe van 1964 oorhandig. Ek staan daar op die boonste trappie, dis lekker, maar totaal onverwags. My pa is 77 en ek is 16.
Die ding het so ses maande vantevore begin toe Bryan Wade gesê het hy dink ek moet baan toe gaan. Ons laat bou ‘n baie goeie baanfiets deur Deale&Huth en laat ’63 land ek vir die eerste maal op Pilditch, Pretoria se fietsrybaan in die Weste. Alles is nuut: die bankings is skrikwekkend steil, die enkel rat (fixed) voel baie swaar, die raam en wiele is stokstyf, die bande is kliphard, die afwesigheid van remme voel snaaks en die pas geskeerde bene kry so half koud ook nog. Om alleen te ry, is al erg genoeg; wanneer daar ‘n groot bondel op die baan is, maak dit jou aanvanklik dood benoud. Hulle ry so vinnig en so na aan mekaar en is so rats om op die regte plek te kom en te bly; hoe doen hulle dit?
My eerste klompie wedrenne verloop verstommend sleg. Ek land telkens op die verkeerde plek op die verkeerde tyd, ek gaan of te vroeg of te laat, ek het miskien gewoon nog nie die spoed wat vereis word om te kan wen nie.
Maar aan ondersteuning ontbreek dit nie. Eerstens is daar my pa wat geduldig langs die baan sit en my telkens troos, kalmeer en moed inpraat. Dan is daar my Northern Cycling klubmaats; hulle ry my lekker weg, maar is heeltemal bereid om raad te gee. En die derde motiverende ondersteuner is my heldeverering vir die helde van die baan waaroor ek al hoe meer leer—soos hulle wil ek ry!
Met die baanseisoen (somer) in volle swang, begin die groot ouens hier in Januarie (’64) al praat van “SA’s”. Ek hoor eers verkeerd, dink hulle praat opstelle, maar kom gou agter dis hul jaarlikse goot afrekening waar almal teen almal kan meeding. Ek aanvaar dat ek nog nie deel sal wees nie, maar dinge begin regkom op die baan en ek is in die span. Soos die geluk dit wil hê, is dit Pretoria se beurt om aan te bied. Ons gaan kei-hard aan die oefen: tye word geneem, tegniek vir die pursuit word ontwikkel, spoed en nog meer spoed word op elke moontlike manier gesoek.
Wanneer die Paasnaweek aanbreek, is die opgewonheid al so groot dat hy oorgaan in ‘n rou angs wat net vererger wanneer jy op die baan al die nuwe ryers sien met fietse en met die kleure van vergeleë provinsies soos Westelike Provinsie, Grens, Natal wat jy nie ken nie. Afrigter Mario se vermanings om dit kalm te vat en net te probeer kwalifiseer word geïgnoreer en ons breek sommer twee maal na mekaar die provinsiale rekord in die uitdunne vir die myl (1600m). Met ‘n rekord op my naam is ek meer kalm, maar die mannetjies van WP en OP is vir my in die finaal heeltemal te slim en ek kom nêrens nie. “Lyk my ek sal moet uitlei” besluit ek voor ons later die middag wegspring in die 5-myl. Ek sit meesal agter in die slip van die vinnig-bewegende bondeltjie en met so twee rondtes oor skuif ek vorentoe, bly bo uit die boks uit, gaan by die kwartmylmerk oor gevaarman Colin Owen en lei vandaar af met brute krag om met ‘n hele paar lengtes te wen. Salig! Geen tactics nie, geen skrikke nie, net skop, hou, skop weer, wen! Jissis!
Daar is nie op die tweede dag van die kampioenskappe vir my enige bondelwedrenne nie, gevolglik gaan ek ‘n rustige afsluiting tegemoet en toe my skoolmaatjie Coenie Bronkhorst vra of hy sy sussie Marianne mag saambring om Maandag te kom kyk, lyk dinge sommer nog beter. En die dag bring nog verrassings: ek wen die 1000m tydtoets en is deel van beide junior en senior pursuit spanne wat medaljes vir Noord Transvaal wen. En dis waar die storie van my pa wat my so voor die bors slaan, begin het.
Met nuut verworwe aansien, neem ek as junior nou sommer aan senior baanwedrenne ook deel. Een van my gunstellinge was die “Unknown distance”. (Sien “A gun a bell and a line”.)