You are currently viewing Harde dae op die fiets

Harde dae op die fiets

  • Post category:Cycling

Soos alle mense het ek ‘n vuurmaakplek. Wanneer ek in terme van kwalitiet of kwantiteit te ver bo hierdie vuurmaakplek gaan, dan word dit seer of hard of albei.

Ek wil een rit noem uit die kwaliteit kant, een uit die kwantiteit kant en een waar die twee saamgespan het om die ding seer sowel as hard te maak.

Die tienmyl spring daardie Woensdagaand ‘n bietjie laat eers weg en die manne wat môre vroeg al moet inval, maak die pas lekker warm van die begin af. Lekker, dink my maat Danie Auret en ek, geen breke sal hier wegkom nie, ons kan lekker ver agter in die slip gaan sit. Mike Payne, Springbok pursuiter van Johannesburg en sy spanmaat Dries Oberholzer het egter ander planne. Hulle glip weg en na 10 van die 33 rondtes is hulle amper ‘n halwe baan voor die bondel. Danie kyk vir my en daar gaan ons in ‘hot pursuit’.  Wanneer jy ‘n break jaag, begin jy altyd te vinnig want jy dink jy gaan hulle sommer gou vang, jy vergeet hoe vinnig hulle ry. Dit neem ons tien rondtes diep in die rooi en toe ons kontak maak, skree Mike: “We’re going for SA record!”.  Geen kans vir asemskep dus nie, ons al vier werk vir die gemeenskaplike droom, maar die bene en longe betaal die prys. Kat en muis begin eers met twee rondtes te gaan, my spanmaat is gedaan, ek moet twee keer jaag en dan is daar ‘n lang en harde sprint wat tot op die lyn gaan. Ons kry die rekord (21:22) maar hoes baie lank na die tyd nog.

Nicol and Payne, new SA 10-mile record

Met die groot manne kan ek nie saampraat wanneer dit by Epics, Trans Baviaanse of Dessert Dashes kom nie, maar toe ons jonk was het ons soms lang dae gery.

Dis met heelwat aanmoediging wat ek my rymaat Hendrik Coetzee in drie dae van Glenmore af tot in Volksrust gekry het. Ons saalsakke is maar swaar en tussen ons is daar nou al drie gebreekte speke.  Die ooreenkoms is dat ons vandag rustig sal ry net tot op Delmas.  Dis vrek koud toe ons op Donderdag 16 Julie 1964 uit Volksrust wegspring en die bene en sitvlakke herinner ons dadelik aan kumulatiewe uitputting. Maar ek is bereid om te pace en ons verder goed deur Standerton, Leslie en Devon om teen vyfuur op Delmas aan te kom. “No ways, ou” sê Hendrik op my voorstel, maar ek koop vir ons elkeen ‘n flits en ‘n coke en ons deel ‘n groot pak slap chips en daar gaan ons die donkerte in. Ek drop vir arme Coetzee net voor Bapsfontein en haal ons huis in Arcadia ‘n uur later. ‘n Harde dag, 178 myl (286km) in 11 uur 30 minute. Die feit dat ek later die aand nog (per fiets) by my nuwe meisie Marianne ‘n vinnige draaitjie kan maak het moontlik iets met die motivering te doen gehad.

Hendrik Coetzee

Dit gebeur soms dat die elemente ook saamspan om ‘n dag nog harder te maak. Die Klein Karoo Klassiek  (90km) van 10 Mei 2003 moes eintlik nooit eers plaasgevind het nie. Die weervoorspelling het gesê daar’s ‘n 100% reënkans.

In gietende reën spring ons daardie oggend by Calitzdorp Spa weg en sommer in die eerste 20km tref ons ‘n wolkbreuk. Die bondel weet nie eintlik wat om te doen nie. Sommiges vloek en draai terug, sommiges lag en versnel maar daar is nie eintlik orde nie.  Op die klein klimmetjie net buite Calitzdorp kom daar darem so ‘n brekie van 14 ouens weg en kalmeer die pas vir die res van ons.  Die koue eis egter sy tol onder die vlugters en veral die jonger outjies begin swaarkry. As gevolg van die taai modder ry almal ook langer en daar val ook manne terug as gevolg van honger. So net na Boesmansnek tel ek die spore en sien daar’s net 8 voor my, as ek hard gaan, kan dit top-tien word vir hierdie meester! Die ergste klimme is agter die rug, maar dit beteken ook daar is min afdraendes om verligting te bring. Hartspoed is te hoog, ratte vol modder, nog ‘n wolkbreuk. Dan puncture een van die agt, ek skuif op na no 8 en gaan so met modderoë oor die lyn, na aan trane soos Louis sou sê.

Hoe hard ‘n dag gaan wees, lê in jou eie hande. Luister na George Sheehan:

I can run the classic race, the mile, and know the terrible pain that accompanies that third quarter-mile and the almost total oblivion of that final hundred yards to the finish. I can suffer, die and be born again in a six-mile race over hills of a cross-country course.  And I can compete with myself in the marathon, the race Roger Banister called the acme of athletic heroism.