In die stilte lig hy sy wenkbroue en wysvinger net so halfmas, ‘n duidelike teken dat hy dit weer hoor. Dis so ‘n hol klopgeluid en dit kom vanuit ‘n groot dooie boom wat net-net teen die donker nag sigbaar is. Vir hom is daar geen twyfel oor die herkoms van die geluid nie: die voorvaders leef nog altyd in dooie Hardekool bome. Hy maak saggies keelskoon so asof hy gaan praat, maar laat sak dan net sy ken so op sy bors, ‘n ryk man.
Ek sit as klein seuntjie saam met my oppasser-vriend Datie en sy nuwe maat Gogga in hul skerm so 500 treë van Oom Lardus Erasmus se hoofkamp waar al die ander woon. Dáár brand ‘n baie groot en warm vuur, alles is met Coleman gaslampe helder verlig en baie mense praat gelyk. Hier in die skerm is die vuurtjie klein, gloei eintlik net, maar jy kan hom ruik en jy kan hom amper proe want jou ander sintuie hoef nie veel te doen nie.
En Hardekool is enig in sy soort wat aroma betref. Dis ‘n oer tipe van geur: jy weet jy ken hom maar jy ken hom ook nie. Dalk lê jou herinnering diep in die onderbewuste waar die voorvaders hom geplant het.
In die laat vyftigs jag die mense nog met styl en oorgawe. Vroegwinter al word die kamp vir hulle ingerig; eers word met sekels die gras kort afgesny, dan word die lapas met daardie gras gebou, ‘n groot een vir kombuis en eetkamer, kleineres vir die stort en toilet, die oorblywende gras word gebruik as matrasse vir die kinders wie se beddens nie op die trok hierheen gebring is nie. Die weelde lê nie soseer in die toerusting nie maar meer in die onbeperkte hulp wat in die vorm van kampbediendes beskikbaar is. Vir elke ding is daar ‘n mens: hout en vuur het sommer ‘n paar, water het ‘n span wat dit vanaf die put in die sandrivier aandra en na smaak verwarm, kos kom drie maal per dag uit Gogga se kombuis, karkasse het ‘n span wat afslag, opsny, pekel, ophang en droog, kinders word opgepas en vermaak, tente word daagliks gediens, alle mans en seuns se voete word saans by die kampvuur gewas. Al wat die jagters moet doen is jag en al wat hul vrouens hoef te doen is sit en gesels — of so het ons as klein seuntjies dit beleef.
Ons stap vroegoggend saam met my pa. Hy is 72, Willem 14 en ek 12. Teen die opkomende sonnetjie staan ‘n groot Blouwildebees bul reguit na ons toe. My pa het sy oopvisier .303 alreeds vas wanneer Willem benoud vra: “Is dit nie een van Oom Lardus se beeste nie?”. Ou William is ‘n ou jagter: laat sak sy geweer, kyk kalm deur sy verkyker, kom weer op teiken, laat sy asem saggies uit en skiet die bok sekuur in die kuiltjie. Eers dan kom die emosie; hy hardloop amper so vinnig soos ons, kry die bloedspoor eerste, volg hom maklik en laat ons toe om die gevalle trofee eerste te vind. Wat ‘n oomblik: almal bewe.
1966
My pa is toe al naby die einde van sy dae. Hy sit lekker pap in sy gemakstoel en sy regterhand met die skuurpapiertjie maak sulke stadige rolbewegings oor die werkstuk waarmee hy besig is. Die Blouwildebees het hy self geskiet, die stertjie self gebrei en die riempie het hy self gesny. Hy maak nou vir homself ‘n vlieëslaner soos wat die natuur dit ontwerp het. Met saag, rasper en veil het hy ‘n handvatsel van swaar, donker hout gevorm. Ek wis nie dat ek hierdie verhaaltjie nog ken nie: dis die gees van die voorvaders wat leef in die Hardekool.
HARDEKOOL