You are currently viewing Chauffuers

Chauffuers

As jy nog klein genoeg is, het ‘n chauffeur niks met status te make nie.  In die vyftigerjare was hy tipies net ‘n nice ou wat, anders as meeste, baie tyd gehad het om met klein seuntjies te gesels.  En hulle kon goed gesels oor mandinge wat regtig saak maak.  Hoe vinnig kan ‘n kar ry,  hoe ver is dit na enige plek toe, hoe bou mens ‘n huis; hulle het alles geweet.  Maar stories vertel was hul ware kuns.  Jy hou hom kort, want baie manne moet nog kans kry.  En jy sorg dat jy reg is om enige stilte te vul met ‘n nuwe, effens verwante storie.  En jy is versigtig om nie onnodig ‘n vorige storie te troef nie; jy bou eintlik net so bietjie op hom sodat daar plek is vir nog ‘n paar ouens voordat hy vol vertel is.  Herhaal maak nie te veel saak nie: daar is altyd ‘n paar nuwe manne by en daar is baie tyd om te vul terwyl die toesprake gelewer word, hoekstene gelê word, dinees verduur word, geloftes in snikhete Desembers gevier word.  Jy gee die klein outjies ook kans om by te dra en jy glo hulle so ver as moontlik; krap net hul hare so liggies deurmekaar wanneer hulle te ver gaan en gee dan vir almal pepermente.

Rangorde word nie soseer bepaal deur waar jou motor in die ry staan nie. (Eerste minister s’n heel voor behalwe as die Goewerneur Generaal by is, dan die ministers, dan administrateurs en so aan tot by die regters.)  Jou status kom meer vanuit jou ouderdom, senioriteit en vermoeë om met ander manne saam te werk.  En hierdie saamwerk kan enige iets wees, soms binne maar gewoonlik buite die werk.  Jy help ‘n ou om sy trok op die pad te hou of jy huisves ‘n ou se seun wat wou wegloop of jy haal bye uit wanneer ‘n ou weg is van die huis af.  Dan is jy ‘n man.  Dan kan jy jou kop hoog hou.  Dan weet jy jy het bereik wat jy kon.  En die ander manne kyk op na jou en jy weet hulle praat goed van jou wanneer jy nie by is nie want jy is ‘n goeie man.

Oom Fanie was so ‘n man en almal het dit geweet en daarom wou almal soos hy wees.  Respekvol en op sy plek, nooit laat nie, so presies dat hy nooit op die verkeerde tyd ‘n vlaggie sou vertoon of nie vertoon nie, maar ‘n leier onder die chauffeurs van sy tyd. Hy is nie ‘n man wat maklik sal gaan sit nie; hy kan vir ure staan.  Sy uniform hou hy toegeknoop, haal dalk net sy pet af as dit baie warm is.  Sy woorde is min want hulle het gewig: as Fanie ‘n ding sê, dan stem die ander saam.  Van die jong mannetjies wat kon ontspoor het, leer by hom en word met die tyd verantwoordeliker en kry goeie werk.  Dan bring hulle op die naweek hul nuwe gesinne om vir Oom Fanie te wys.

Emblems of the Union of South Africa and Transvaal

Tien jaar is ‘n lang tyd en baie dinge verander gedurende die dekade van 1948 tot 1958.  Motors kom en gaan, in my pa se geval maak die Daimler met sy glaspartiessie tussen bestuurder en passasiers plek vir ‘n kragtige sewesitplek New Yorker; die groot Chrysler vir ‘n  kleiner Windsor.  Eerste ministers verander ook, Malan word Strydom. Die land verander met die nuwe Nasionale regering wat damme bou, paaie teer en infrastruktuur ontwikkel.  Maar Oom Fanie bly.  Elke dag neem hy my pa kantoor toe, dis in die Ou Raadsaal op Kerkplein.  Huis toe sodat my pa middagete saam met sy gesin kan geniet en ‘n oomblikkie kan lê, dan weer terug kantoor toe tot vier-uur. En meeste aande is daar ‘n funksie, dikwels op die Rand. Dan word dit middernag voor so ‘n man tuis kom; hy woon in die Weste.  (Later word vir hom ‘n huis gebou op nommer vier tuin, ‘n deel van Overvaal.)  ‘n Verhouding van wedersydse diepe respek ontwikkel tussen chauffeur en sy sorg; die chauffeur doen veel meer as net motorbestuur. Klankbord vir die administrateur op pad na ‘n moeilike begrotingsvergadering, toetsgehoor vir ‘n grappie wat vir die toespraak by ‘n hoeksteenlegging oorweeg word, raadgewer oor die hantering van klein seuntjies en ander menslike uitdagings.  Wanneer Fanie se seun Abel skool na standerd ses wil verlaat, stuur my pa die proses in die regte rigting sodat hy tot by standerd agt vorder.  En as Fanie se vrou ernstig siek word, dring my pa aan op menslikheidsverlof vir sy getroue helper.  Op laatnagritte hou hulle mekaar wakker, Fanie laat William nooit bestuur nie. 

Oom Fanie met die Chrysler Windsor

Op hul laaste tog probeer hulle die oomblik versag en doen ‘n beraming van die afstand wat hulle saam afgelê het. Dis kennelik nie in myle nie en beide word stil. Die oë is nat wanneer William met ‘n knop in die keel sê:  “By jou het ek baie geleer, Fanie”.  Fanie weet hy is reg:  “Dit was ‘n eer, doktor”.

Chrysler New Yorker comfortably seats eight passengers