You are currently viewing Ons dae in die Army

Ons dae in die Army

“May I please have another, Sarge?” vra Murray. Hy bedoel nog ‘n oorpak; ons is in die Lugmaggimnasium besig met basiese opleiding in 1965.

“What?” skreeu die kwartiermeester, sy verontwaardiging ver by Bumble in Oliver Twist verby.

“I mean another overall, Sir”.  Murray, mooi gemoduleerde stem uit ‘n goeie skool in die Natalse Midlande, sy ouers  ryk suikerboere.

“And what’s wrong with this one?” Kwartiermeester, sarkasties. Murray is net ‘n troep, eintlik nog ‘n “roof” in basies.

“No-no, nothing Sir.  I wish to request a second overall”.  Kalm, half verleë dat hy sy saak nie duideliker gestel het nie.

“Get out! And give this troep back his old stinksuit, Corporal!  And I am your Sergeant, not your Sir!”

“Very well, Sir”. Jeeves wil maar nie wyk nie.

Vir Ian Murray is dit een van sy eerste suksesse in sy nuwe milieu. Die troepe wat die petalje in die kwartiermeester se stoor aanskou het, het ‘n nuwe held en sommer ‘n lekker storietjie ook. Daar gebeur nie aldag sulke interessante dinge in die Gym nie.  En Murray is slim genoeg om die teëlaarde tot legende dadelik raak te sien. Reeds die volgende Donderdag tydens omruilparade gooi hy sy nou twee-week oue oorpak op die wasgoedhoop, maar die moue is versigtig uitgehaal en veilig in sy trommel gebêre. Na nog twee weke het hy genoeg moue om die bondel wat hy op week vier ingooi, na ‘n oorpak te laat lyk, en daar kry hy dan sy tweede oorpak.  Van nou af  is hy altyd die troep wat die beste lyk, maak nie saak hoe hulle ons die vorige dae gejaag het nie. Murray weet dat voorkoms persepsie beïnvloed.

Daar is so 700 van ons in die Lugmaggimnasium. Almal pas uit matriek, baie van ons nog 17, sommiges reeds 18. Ons is totaal kommervry; die weermag huisves en voed ons, sê presies wat ons moet doen. Ons verdien 50 sent per dag, saans koop ons allerhande lekker goed by die kafeteria — ‘n troep is altyd honger. Die korporaals wat vir ons opleiding verantwoordelik is, is net een jaar ouer as ons maar hulle het grenslose mag. Hulle mag ons net nie slaan nie, maar mag sê wat hulle wil, vloek na hartelus, strafdril gee tot by opgooi, selfs CB gee. (Confined to barracks, ‘n soort huisarres.)

Ons leer baie dinge, maar die grootste hiervan hoe om suksesvol met sadistiese magsmisbruik om te gaan.  En hier neem Ian Murray weer die leiding.

Op ‘n aand so vroegwinter is die swak kos vir een van die Engelsmannetjies wat beter gewoond is, net te veel.  Hy laat sy varkpan net so op die tafel, maar skryf in die klonterige mash “Die kos is swak”. (Bietjie sterker, maar nou ja).

Voordag die volgende oggend is almal aangetree op die paradegrond. Bevelvoerder is daar, ook RSM met sy groot snor, elke offisier en onderoffisier gluur ons aan terwyl hulle stadig deur die geledere stap. Niemand glimlag nie. Dis erg.

RSM Mickey Badenhorst doen die praatwerk:

“Die lae luis wat daardie woorde geskryf het, sal nou een tree vorentoe gee.” Hy praat sag, mens wil nie hê ander moet hoor van so ‘n skandaal nie. “En as hy dit nie binne een minuut doen nie, sal niemand op hierdie basis vandag eet nie, ook nie vanaand nie!” Hy tel spoed op, praat harder. “En as twee minute verby gaan, sal niemand vir twee dae lank eet óf drink nie”.

Murray tree flink vorentoe, kap sy stewel op die grond.

“Waar dink jy gaan jy, Troep? Ons weet mos jy eet nie in die menasie nie”. (Gereelde luukse hampers, soms gekonfiskeer maar meer dikwels versigtig oor dae en onder kamerade versprei.)

Hy staan doodstil, die hele parade hou asem op. Mickey stap stadig op hom af, sy pet laag oor sy oë. “Wat?” blaf hy so luid dat almal wip.

“You indicated that, unless someone owned up, there would be no food or water for a day, Sir”.  Kalm, sy stem trek verbasend goed deur die koue oggendlug.

“But you didn’t do it!” Kom uit as “dirrent” en as woede.

“I may not have written those words, Sir, but I have in the past expressed that exact same sentiment about the quality of the food; therefor I am guilty, Sir”.

Donkeraand eers voel die twee korporaals tevrede dat hul strafdril vir Murray finaal gebreek het.  Hy lê stil, dalk dood.   Ons probeer hom bietjie water ingee, gooi hom bietjie nat, was die stof en sout en vuil van sy gesig.  Sy eskadermaats dra hom na sy bed, niemand mag help nie maar almal stap saam.  Dan is daar beweging op sy gesig: hy wip sy wenkbroue so effens, glimlag flou en vra met sagte stem:  “How is the food?”