You are currently viewing Die braafheid van tienerseuns

Die braafheid van tienerseuns

Hendrik Coetzee

Ons is in standerd 9 en my pêl Hendrik Coetzee se ouers hou vakansie in Umdloti op die Natalse Noordkus, dus ry ons soontoe.  Kom eers na skool weg maar twee maters pace ons tot op Bapsfontein en met hierdie hulp is ons kort na donker op Eendrag waar my pa by die plaaslike dominie slaapplek gereel het.  (130km in 5 uur). Die feit dat ons gasheer alles probeer om ons ontuis te laat voel —“alle monde wat eet, word aan kontant gemeet”—pla ons nie in die minste nie; ons slaap heerlik en sluip sommer voordag uit; hy kan sy brekvis maar hou. Nou is dit ‘n harde dag oor Standerton na Volksrust. Ons stop net een maal, en dit op Paardekop, een van die eerste dorpies wat as gevolg van padverlegging doodgekwyn het.  As kinders was hierdie storie vir ons ‘n treffende en ontstellende herinnering aan die verganklikheid van alles, waarskynlik as gevolg van die manier waarop my pa dit vertel het, gebasseer op sy aandeel daaraan as Administrateur van die provinsie.  Die plaas van Oom Sam Dippenaar (Dippenaar en Reynecke mansuitrusters was syne in Pretoria), is so 30km anderkant Volksrust en ons kom doodmoeg en uitgehonger daar aan na 190km en 7 ure in die saal.  In teenstelling met die vorige aand, word ons hier gul ontvang, gevoer en uitgevra. Tannie Margie kan nie genoeg doen nie; dis koek en happies en tweede porsies en nog meer. Sy kry saam met ons lekker om die onblusbare eetlus van die tieneratleet te ervaar.

Op Sondag mag nie gery word nie. Ook maar goed so, ‘n rusdag op sy tyd is van onskatbare waarde. Maandagoggend spring ons in die rypkoue van Volksrust se winter weg, die bene voel goed maar Coetzee het ‘n tand.  “Nee jussie ou, hy pyn nie min nie, ons moet die tandarts laat kyk”.  Goeie man, hy spuit dood, verwyder die lewe, stop die tand en stuur ons met ‘n pakkie pynpille op ons pad. Amajuba af gaan sommer lekker en ons is dwarsdeur Newcastle voordat die pyn met mening terugkom en Coetzee se “Nee jussie  ou, ek kan  nie verder nie” ons noop om maar ‘n lorrie te hike. Heerlik agter op die oop bak; die swartes deel hul kos met ons, Coetzee slaap die pyn weg, ons koop koeldranke vir almal op Mooirivier en net toe die son sak en dit vrek koud begin word, begin ons afsak daar by Hillcrest rond na die warmer seelug toe. Nou nog net 30km kuslangs dan is ons daar, maar min het ons geweet…

Ons trap daai 30km vinnig af Umdhoti toe en aangesien ons geen adres het nie, begin ons rondkyk vir die Coetzees se motor, so ‘n groen Valiant.  Ons sien hom nêrens nie, dis later naby middernag en die polisie vra of ons regkom. Hulle nooi  ons om maar in die selle op Verulam te kom slaap, more kan ons verder soek. So maklik en ongebonde soos daardie arbeiders in Unbearable Lightness klim ons in, slaap die nag, kry die volgende dag ons mense. Tienerseuns se gemak met die lewe, iets wat mens moet nastreef.

Jack Lester, Janusz Kieszkowski en ek