You are currently viewing April en sy naaste in die Agterhantam

April en sy naaste in die Agterhantam

My neef Wea skiet vroeg een oggend ‘n groot bobbejaanmannetjie hoog teen die berg toe ons op pad is na die skaap wat hy in die Agterhantam op huurgrond aanhou.

Ons is voordag uit Calvinia,  Booi staan agterop met die sak meel vir die skaapwagter en die sak mielies vir die skaap. Voor sit ons drie, dis Wea Ramskop, Japie Rooivlak en ek. Vanne is lankal deur plaasname vervang. En dit gaan lekker. Die lug is nog vars en koel, ons het ‘n fles koffie en daar’s ‘n lekker geweer by ons vir enige geleentheid wat hom mag voordoen.

So in die ry, eers ‘n ent op die Loeriesfontein pad en dan by Uitkyk en Groot Toren noord om agter die berg te kom, verneem ek dis amper ‘n maand sedert die laaste besoek aan April, die skaapwagter. Hy woon alleen maar hulle is nie bekommerd oor hom nie, hy kan nog altyd vir homself goed sorg. Tog is dit belangrik om darem net te sien hoe die veld maak na die effense winterreëntjie wat daar in Augustus en September was.

Daar’s ‘n dringende klop op die kap en Wea hou stil, vat die geweer en vra:  “Sien jy iets, Booi?”

“Niks, Kleinbaas, dis net dat ek nou so ‘n lekker rooklus het”.  Almal verstaan dit; om agterop die bakkie in die wind te rook is niks lekker nie. Booi tower ‘n bietjie tabak êrens uit sy sak en kry sy pypie behendig aan die gang. Net so ‘n paar lekker diep trekke, dan druk hy hom sommer met die duim dood en bêre hom vir later. “Raait, ry maar!”

Die son is half sleg toe ons op die trop afkom en dit vat ‘n tydjie om ‘n ordentlike staning te kry om te kan skiet. Die bobbejane beweeg verbasend vinnig teen die berg op maar die groot mannetjie lyk asof hy so half die agterhoede wil dek en so kry my neef ‘n mooi skoon kans op so 400 treë. Die 270 maak geen fout nie en die klap van die koeël is ‘n soliede en bevredigende bevestiging.

By April se skerm is dit doodstil. Die uitsig na drie kante toe is onbeperk en ons staan lekker en kyk en gesels. “Nee, o hygend,” sê Japie “so alleen sal ek nie kan nie. ‘n Man het darem iets of iemand nodig”. Dis ‘n wêreld van min woorde en Wea gebruik een van sy gunstellinge: “Is so”.

Van ver af sien ons April aangestap kom. Ten spyte van sy jare—hulle dink dalk oor 70— het hy daardie ratsheid van die veldman wat hom in staat stel om vinnig tussen die karoobosse deur te vleg sonder om ooit spoed of rigting te verloor. Hy lig sy hoedjie so effens en groet met ‘n sagte “Seur”. Hy verdwyn dan in die donkerte van sy skerm en kom met ‘n klein blikkie koel water uit wat hy eers vir almal aanbied en dan dorstig afsluk. Sy klein postuur, ligte gelaat en kenmerkende oë wys baie duidelik dat sy mense baie lank al in hierdie dorre gebied hul bestaan maak. Vir hom is ons besoek en dít wat ons bring ‘n bonus maar geen noodsaaklikheid nie. Hy ken die Karoo.

Oor die veld en die skaap praat hy met die intieme kennis van jare en ure. Daar is nog baie kos in die leegtes, daar’s byna geen gif nie, die skaapbosse is sterk aan die uitloop. Ons is in die getal met die skaap, daardie ou ooi is toe dood, die een met die baie plooie het ‘n tweeling en die lammers kry lyf, gelukkig het geeneen ‘n knak gehad in sy groei nie. Jakkalse is volop maar hy is in beheer, die takkraal hou goed.  Hy sien rooikatspore maar daar is genoeg dassies. Soos hy praat, wys hy met die kierie waar elke waarneming gedoen is.

Dan trap hy ‘n bos mooi plat,  gaan sit gemaklik en begin met sy vertelling:  “Ek word nou die nag wakker en ek dog ek hoor iets maar dis baie sag en ek kan nie altyd goed hoor nie maar dis of hy so sê “whaaa”, maar baie saggies.  Toe hoor ek dit weer maar raak toe aan die slaap en die volgende oggend het ek daarvan vergeet. Daardie nag, of ‘n nag later, toe hoor ek weer hy sê so “whaaa” en toe draai ek my kierie om sadat ek die volgende môre sal kan onthou om te kyk”.

Sy sagte stem en kalme manier boei almal en ons luister aandagtig wanneer hy aangaan: “Nou dink ek by myself ek hoor soms die muise wat meel steel, maar ‘n muis maak nie so “whaaa” nie. Ek het eers my kooigoed geskuif en toe ‘n paar takke van die skerm maar niks gesien nie. Dit was eers toe ek die meelsak oplig wat ek hom sien: ‘n baie ou Pofadder wat al swart geword het van die jare.”

“Maar dan was hy baie groot al gewees?” vra Japie Rooivlak.

“Ja Seur, en dik”.

“Kon jy hom doodslaan?” Japie.

April kyk eers die verte in. Hy skuif so effe en rek sy nek asof hy oor iets moet sien en sê dan “Daardie hondjie wat ek gehad het is mos lankal dood en hier is dit soms baie lenig. Die slang is my naaste en ek kan hom nie dood nie”.

Almal is eers stil en wanneer ons ry, vra April: “Ek het gehoor julle het vir my ‘n vleisie gemaak daar in die berg?”

Ons is verstom, hoe kon hy die skoot so ver hoor? Wea kom eerste tot verhaal: “Dis maar ‘n bobbejaan, April”.

“A, lekker vleis!” Sê hy.

“Maar hoe kon jy die skoot en die klap so ver hoor?”.

Hy glimlag wanneer hy geduldig verduidelik: “Ek het hom nou nie soseer gehoor nie, ek het hom entlik meer gevoel”.