You are currently viewing Alena

Alena

Die foonoproep vroeg daardie Sondagoggend in William Nicol se Maraisstraat pastorie skep dit vir hom ‘n dilemma. Hy gaan sit in die donker studeerkamer en wonder of hy kan vra om genade.  Aan die een kant is hierdie aanbod so ‘n wonderlike geleentheid om weer  ‘n stukkie eiendom te bekom, die perfekte stukkie met alles wat ‘n man se hart kan begeer, maar aan die ander kant is die onbetwisde verbod op Sondaghandel, te meer nog eiendomshandel: hierdie is nie sommer ‘n esel of ‘n skuit nie, hierdie is so goed as ‘n Olyfboord.

Sy nuwe bruid Lena bring vir hom ‘n koppie tee, trek die swaar gordyne oop en kyk saam met hom hoe die sagte winterreëntjie uitsak.  Dis Junie 1942, hulle is na Mimmie se dood in ’39 nou reeds byna twee jaar getroud, daar is nog geen teken van kindertjies nie.  Vir haar is die probleem nie onoorkomelik nie: hulle sal ná die oggenddiens bloot uitry Kameeldrif toe, die natuurkoon daar bewonder, dis immers deel van die Skepping, en dan kan William mos Maandagoggend vroeg met Ou Labuschagne besigheid praat.

“Die vrou en ek het nou so gereken, Dominie” begin Ou Labuschagne (hy is nooit anders genoem nie, dis asof Ou sy voornaam was).  “Ons het nou hierdie 300 morge plaas Kameeldrift en dis goeie grond, nie te ver van die stad en die mark af nie.  Die rivier is taamlik standhoudend en met die nuwe keerwal is daar altyd genoeg water. Die ding is, ons word nie jonger nie en nou het die vrou en ek so gereken: as ons hom kan verdeel in 20 stukke van 15 morge elk, dan kan ons dit so verkoop en genoeg hê vir die oudag, moontlik by die kinders.”

My pa spits sy ore: 15 morg is net ‘n lekker stuk, nie te groot nie, nie te klein nie.  Terwyl Mimmie nog gelewe het, het hy vry toegang gehad tot die Klopperse se familieplaas naby Machadodorp. Daar kon hy hom in die natuur uitleef deur te stap en op klein skaal saam met sy swaers Tobie en Niesewant  met beeste te boer.  Hy dink terug aan sy klein rondaweltjie waar hy en Mimmie sulke oomblikke van absolute vrede saam beleef het.

Ou Labuschagne se woorde bring hom terug uit sy herinnering: “Die rede vir my bel op ‘n Sondag was juis dat ons graag vir Dominie heel eerste kans wil gee om ‘n lappie te kies as Dominie dalk sou wou?  Daar is juis ‘n paar manne wat alreeds navraag begin doen het” waarskuwe hy.

Nou klop William se hart vinniger, sy asem dreig om hande uit te ruk. Hy vorseer homself tot kalmte wanneer hy rustig sê:  “Ons wil nou nie soseer boer nie, broer, dus sou daardie gedeelte met die kliprandjie ons nie pla nie. Jy weet hoe lief ek vir bome is; daardie een het besondere bome, veral daar onder teen die rivier. Ons sal hom graag wil hê.”

Alles verloop glad. Die landmeter wys die penne, die bank gee die geld (vyf honderd pond, dis R1000), Lena lyk tevrede William is ekstaties.  Hy kan nie sy goeie geluk glo nie, dis alles daar: Die rivier vloei kalm en breed onder hoë skadubome en hy sien al hoe hulle daar gaan roei, iets wat hy nog laas op die Breederivier in Robbertson met sy agterryer Timpie so geniet het. Die kliprandjie klim steil uit die rivier en gee dan so ‘n perfekte plato’tjie, dis waar die rondaweltjie sal kom. Sommer ‘n waenhuis ook daar anderkant die Doppiespruim, alles klipmure en grasdakke van sy eie grond af.  Maar sy grootste genot kom vanuit die bome. Daar’s ou bekendes van Mooiplaas se dae: Witstinkhout, Vaderlandswilg, Lepelhout maar ook nuwes: Acacia Robusta en Lekkerbreek en Stamvrug en baie meer—sy hart is vol en dit raak al hoe moeiliker om net op Maandae (predikante se afdag) die tien myl grondpad daarheen aan te pak.

Planne het hy volop en met geld kan hy ‘n plan maak, maar dis oorlog en rantsoenering maak dat jy nie sommer net vir Stewarts en Lloyds kan skryf en ‘n windpomp bestel nie, ook nie sommer sonder permit sement mag koop nie. Hy onderhandel vernuftig en kort voor lank het hy die nodigste permitte, halfpennieseëls op soos deur die wet vereis.  Die waterwyser kom te perd daar aan, skud sy kop in die omgewing van die beplande rondawel maar wys ‘n lekker vlak watertjie aan so 400 treë daarvandaan. Die eerste groot investering in die nuwe eiendom word sorgvuldig oorweeg en bespreek.  Dan kry hulle skrif om voort te gaan, en daar is hy!  Net  30 voet diep (9meter) en heerlik soet soos net boorgatwater kan smaak.  William se beker loop oor. Nou het hy waarlik weer ‘n plaas, al is hy hoe klein. En die naam Plasie verander hy na Alena, ‘n woordspeling wat beide sy diepe verlange en sy nuwe maat insluit.