Die praat van my Pa
William Nicol is op 23 Maart 1887 in Robbertson gebore, die seun van ‘n Skotse immigrant en Kaapse boerenooi.
Taal lê hom altyd na aan die hart en as ek nou, meer as 50 jaar na sy dood in 1967 toe hy 80 was aan hom dink, dan is die woorde en klanke daar om ons te help verstaan hoedat Afrikaans uit daardie agtergrond ontwikkel het.
Die Hooghollandse invloed was duidelik in sommige woorde soos klaar (vir helder of duidelik) maar ook in die sterk verbuigings soos mog, had en wis. Maar as jy die oubaas goed genoeg geken het, dan wis jy dat hierdie eintlik net ‘n ondeunde manier was om meer ekonomies te praat – ‘ek wis nie’ is tog veel korter as ‘ek het dit nie geweet nie’.
Uit sy stories voel ons aan dat hy eintlik twee lewens gehad het. Die eerste met sy sielsgenoot Miemie en die tweede met ons ma Lena en sy twee klein seuntjies ses dekades sy junior.
Uit daardie eerste lewe kom die mooi klanke van awontuur saam met maters soos Kerneels en Tobie (‘n blok van ‘n man’) en swaers soos Niesewant en IdeV. As hulle gaan jag, gaan die wa vooruit en hulle volg in ‘n motorkar waarin Ant Miemie (nooit net Miemie nie) en haar ma Tant Saar saamry. Hierdie motor kan ‘n Studebaker of ‘n Scrips Booth wees, hy het ‘n kattebak waarin ‘n domkrag en lapgoed vir bandherstelwerk is, en ‘n piekanien ry saam om hekke oop te maak.
Sy skoonma spreek hom as Nicol aan en wanneer hulle aankom laat sy heel eerste voorbrande maak, dan reëntwaterslote grawe alvorens hulle die geweers durf uithaal. Vir die eerste aand skiet hulle met die salonsgeweertjies ‘n sak vol Pappegaaiduiwe wat in die Vy kom slaap en smul aan Tant Saar se duiwepastei. Dis hierdie einste Tant Saar wat vir die onvergenoegde, suurpruim vrou op hul dorp gesê het: “Proe jy aan melk met daardie bek, dan skif die hele bak!”.
Die kamp word gerieflik ingerig naby ‘n rivier waar daar ‘n baaiplek is waar hulle kan gaan baai in hul baaipakke. Dit dien ook sommer vir bad en gereeld word koppe gewas, nie hare nie. Jy staan op ‘n bokseiltjie en afdroog, nie ‘n seil nie; hy is veel groter en word gebruik waar meer mense betrokke is, nie net een nie. Drinkwater kom uit die puts wat in die rivierbed gegrawe is en die kok se naam is altyd iets Bybels soos Dawid of Markus of Samuel.
Jy jag te voet met ‘n draer en jy moet weet wanneer om die Salonsgeweertjie byderhand te hê vir ‘n has (nie haas nie) of dalk ‘n klein bokkie of ‘n vogel met ‘n baie sagte ‘g’. Maar grootwild skiet almal met ‘n Lemetford (303) en as jy wil seker maak, met ‘n dumdum (patroon). In die jagveld is hy op sy gelukkigste, maar die tyd vlieg om soos ‘n briesende leeu en dan moet hulle terug pastorie toe. Miemie sterf onverwags een aand op haar familieplaas buite Machadodorp. Dit was kort na hul Silwerbruilof en sy was net oor die vyftig, in die fleur van haar lewe.
Dis daar wat Datie, sy persoonlike helper en metgesel by hom aansluit vir die res van sy lewe. Hul taal is min want hulle verstaan mekaar ten volle. Soggens gaan dit oor klere wat vandag amper nie meer gesien word nie soos losboortjie, borshemp, swartpak, manel en streepbroek waarmee die keil net saamgaan vir die Goeverneur-Generaal se aankoms op die Wit Trein uit Kaapstad en vir sy (die GG) se tuinparty – maar Datie wis lankal wanneer dit plaasvind want hy kuier saans oral in Brynterion.
Na net ‘n jaar as wewenaar trou hy met Magdalena van Velden. Hy noem haar Lena of Lenta en vernoem sy plasie buite Pretoria na haar as Alena. Met groot deernis hanteer hy sy gesin, noem ons kinders sy dierbares en spot ons oor nooientjies. Op ‘n koue wintersaand leer hy ons hoe om mos op brood te eet deur die dik boter (nie botter) aan die onderkant te smeer sodat die mos nie sal deurlek nie en as ons laataand nie kan slaap nie, bring hy vir ons ‘n glassie water en vryf ons klein ruggies (magies vir wakkerword, ruggies vir slaap).
In die motorhuis werskaf jy wanneer dit vir plesier is en werk jy wanneer dit produktief is. Op sy plasie werk hy nooit wanneer hy Maandae daar deurbring nie; hy werskaf net.
Van al die wondere en veranderinge wat hy oor ‘n lange leeftyd ervaar – beide die motorkar en die vliegmasjien van ontstaan tot volle wasdom – moet die ontwikkeling van taal een van die grootstes wees. Hy en sy generasie is gebore as sprekers van ‘n taal wat eers later ‘n naam kry maar hulle praat hom goed en met trots, soos wat hulle ook hul ander tale praat.


