You are currently viewing Onderhoud met Johan Nicol

Onderhoud met Johan Nicol

                             

Chris Willemse Reünie groep (RG): Vertel bietjie van jou fietsryloopbaan?

JN: Ek het ‘n baie kort maar lekker kompeterende loopbaan in die sestigs gehad gevolg deur ‘n redelik lang en genotvolle loopbaan as sosiale fietsryer, eers in Pretoria en daarna in Wildernis vir die  afgelope 24 jaar.

RG: Vertel van die sestigs?

JN: Soms voel dit nog soos gister! My pa laat bou vir my by Deale and Huth in ’62 ‘n wonderlike  padfiets vir R83 en kort daarna begin ek as junior regkom. Die enkele titels en rekords wat ek toe as junior en later as senior gekry het, het ek natuurlik almal al weer verloor maar ek het wel drie groot dinge oorgehou uit daardie eerste jare.

RG: Voor ons by daardie drie groot dinge kom: enige hoogtepunte?

JN: Die 10-myl SA titel in Johannesburg, die SA junior 1000m TT wat vir 21 jaar gestaan het en die SA 4000m enkelagtervolging waar ek die 5-minuut grens gebreek het, tel sekerlik onder hulle. En natuurlik ook die wonderlike besoeke aan Duitsland vir Tour der Jugend en as Springbok aan Holland vir die Wêreldkampioenskappe.

                SA 10 Myl 1967: Nicol, Kriel, Oberholzer

                                                SA  1000m Tydtoets 1967

RG: Wow! En daarna?

JN: Dis veral vandat ons in ’96 na Wildernis getrek het, wat ek bergfietsry regtig begin geniet het. Ek het so ‘n virtuele klub, die Wilderness Wheelers,  gestig en met hulle al die plaaslike wedrenne jaarliks begin doen. To Hell and Back is vir jare al ‘n hoogtepunt en daar is baie ander.

  Swartbergpas 2003. Sleutelbeen vir my, ribbetjies vir Mark Kapnoudis

RG: Dit klink lekker maar nie net sosiaal nie?

JN: Jy is reg, fietsryers wil mos maar altyd kompeteer! Dis eintlik die vele toere waar die sosiaal inkom.

RG: Toere?

JN: Ja, ek is nogal trots om te sê dat ek op die bergfiets al drie die Kaapprovinsies beter kon leer ken in die geselskap van mense wat deur die jare goeie vriende geword het. Op toere wat ek self gereël het of aan deelgeneem het, was ek al op meer as 50 van ons mooi klein dorpies gewees.

RG: Afgesien van fietsry, het jy ooit gewerk ook?

JN: (Lag) Ja. Ek is ‘n bedryfsielkundige en het in daardie veld gewerk vir so 25 jaar totdat ons vir die stad moeggeword en hierheen getrek het. Hier in Wildernis open ons toe ‘n gastehuis wat ons vir 12 heerlike jare bedryf het en toe verkoop het.  Ek dog toe ek is afgetree, maar werk al weer die afgelope 10 jaar met my fietsryer-swaer Pieter Bronkhorst in die bedryfsielkunde.

RG: Ons moet terug na die drie groot dinge wat jy oorgehou het?

JN: Jy is reg, mens raak meegevoer! Die eerste is dus die liefde en lus vir fietsry soos hierbo genoem. Ek dink nie dit sal gou ophou nie; ek ry deesdae met my skoonseun Anton en kleinseun Siemon Joubert, dis wonderlik wat ‘n ebike op hierdie ouderdom kan doen! Die tweede is die belangstelling in ons wonderlike sport soos wat hy internasionaal groei en tegnologies ontwikkel.  Is die nie heerlik om altyd ‘n held te hê nie?  Dit het begin met Jacques Anquetil, toe word dit Merckx, Hinault, Boonen, Cancellara!  Jy wat Chris is, het my nog destyds aan Merckx en Sercu voorgestel.

                                   Jacques Anquetil, tydtoetsmeester

RG: En vandag?

JN: Moeilik om te kies tussen die rock star Peter Sagan en die opkomende Julian Alaphilippe.

RG: Daar was ‘n derde iets wat jy oorgehou het uit die sestigs?

JN: My skoolmaat Coenie Bronkhorst het sy suster Marianne saamgebring na my eerste SA kampioenskapsbyeenkoms in Maart 1964 in Pretoria.  Sy en ek is van toe af saam en ons hoop om op 3 Julie ons Goue Bruilof op gepaste wyse te vier, al kan ons miskien dan nog nie vlieg nie.

                                         3 Julie 1970

RG: Wow! ‘n Korte loopbaan wat lei tot soveel lange verbintenisse! Dankie!

JN: Dankie, dit was ‘n voorreg!